Wildsbokkie

Klein bokkie by die waterkuil
kom skugter-skugter uit die bos.
Oortjies bak.
Koppie fyn.
Neusie spits.
Snuif in die lug,
kyk rond
en kniel.
Lippies raak die water net...
Ritseling in die gras!
Ruk sy koppie op
en staan
versteen.
Swaai blitsig om
en wég weer in die bos.

Versigtig, só versigtig kom hy later
terug -
want o,
die dors,
die dórs!

Hoe kleef mens aan die plek ...

Hoe kleef mens aan die plek waar jy as kind
gewoon het! Die dorpie met sy stil rivier,
sy steil kerktorings teen die lug, en langs
die vaal stofstrate: sipres en populier.

Die rooibont koeliewinkels en die mark,
die stadsaal, koshuis en die skoolgebou,
en van die dorpsgesigte is daar veel
wat jy soos prente uit 'n boek onthou.

Die spierwit gewel van jul huis, die put,
die handpomp en die fyntuin van jou pa -
dit voel soos gister toe jy laas met groot
blikemmers groentebeddings nat moes dra.

En someraande het jy urelank
in die donker denneskadu's op die kweek
gelê en kyk hoe blink die sekelmaan
in fyn patroontjies deur die naalde breek.

Somernagdroom

Een nag het ek gedroom
ek wandel langs die strand,
die lug en see delfiniumblou.

'n Silwerreën van sterre
het helder oordag
uit die hemel
op die aarde neergestort;
en oral waar hul val,
was daar 'n plaat wit lenteblomme
wat wuif en dans en dartel in die wind,
totdat die hele strand
en elke bult en vlei en vlakte en berg
'n spierwit skittering was,
'n see van blomme in die son.

En toe ek wakker word,
was alles één groot blydskap
in en rondom my -
die suiwer, onvermengde vreugde van 'n kind.

Tornado

Mens moet in so 'n windverwaaide land
'n windbreek om jou werf en woning plant;
en vir beskerming van jou huis en skuur
moet jy 'n polis uitneem teen die vuur.

Bo-op jou huis se hoogste nok plant jy
'n koperpen om die weerlig af te lei;
en in jou kamer is 'n nis gebou
- die plek waar jy jou huisaptekie hou.

'n Tydlank sal jy rustig, sonder vrees
bly woon, teen ongeluk beveilig wees.
Maar eendag word jou woning omgestoot
wanneer die swart tornado van die dood
sy slank spirale uit die hemel draai
en oor jou windbreek, werf en woning waai.

Kleiosse

Die winterwind het op my hand
'n ghoen van 'n skurwet gebrand,
want ek het by die waterkant

van vroeg tot laat plaas-plaas gespeel
en uit die vleiturf swart en geel
kleiosse vir die mark geteel.

Saans het my ma die brandsiekseer
voor ek gaan slaap het, altyd weer
met ruitersalf en ghries gesmeer

en my beloof: 'n winterwond
word nooit weer heeltemal gesond
as jy bly vroetel in die grond.

Nou's daar al soveel jaar verby.
'n Merk het op my hand gebly ...
en iets wat soms nog skryn in my.

+++

> Voordrag deur digter in MP3-formaat

Potchefstroom

Vuurdorings wat in ligte laaie staan,
hul vlamrooi bessies flikker in die flou
lig van die najaarson. Daar lê 'n blou
misbank sover die kronkelinge gaan

van Mooirivier. In Vyfhoek is die graan
oorryp. Melkkoeie slenter deur die nou
straatgange van die Burgerregte. 'n Ou
oom drentel om die hoek van Maurylaan.

Bosduiwe by die universiteit,
in vensterkoeltes van die hoofgebou,
verdroom die herfs. Daar huiwer deur die blou
gewelf iets van die stil teenwoordigheid
van God in hierdie dag wat heilig is
van stilte, heilig van geheimenis.

By Totius in die klas

'n Ou-ou staaltjie, anekdote uit
die dae van Oom Paul of die tyd
toe hy in Holland was - so het altyd
die les begin, en ons het meesal uit

meelye saamgelag. Daarna ontsluit
hy met die sleutel van die Woord die tyd
se poorte en voer ons na die ewigheid
bó die heelal se sterwit ruimtes uit.

En voor die deure van geen raaisel stuit
hy in sy hoë vlug nie of altyd
herlei sy gees dit na die Godsbesluit.

En eindelik as die meul se skorre fluit
om een-uur blaas vir rus- en etenstyd,
het hy sy oë in gebed gesluit.

Soektog

Die môre was 'n berg voor my,
die dag 'n sandwoestyn,
die aand 'n bos waarin ek dwaal,
die nag 'n grot vol pyn.

Terwyl ek voor 'n afgrond staan,
het ek in elke donker hoek
by kerslig van my klein verstand
na God, die grote Son, gesoek.

Die leë huis

Die huis staan nou al maande leeg,
die deure dig gesluit.
Die tuin is onversorg.
Reg aan die voorkant sit die gat
van 'n gebreekt ruit.

'n Uithangbord vermeld:
die reëlings is getref
vir die vendusie.
'n Uitgestorwe boedel glo...?

Dit vat mens lank om te besef
dat die wat dood is,
nie net weg is nie,
maar dat hul dood is,
dood,

finaal en onherroepelik
dood.

Gasvrou

Tapisserieë teen die kamermuur,
en op die uitgekerfde kanferkis
'n ornament van suiwer ametis.
Die mat en meubels luuks en peperduur.

Ou silwerskale, swaar en blinkgeskuur,
glim kosbaar in 'n skemerige nis;
drie skywe wat van koperdryfwerk is,
weerkaats die skynsel van die kaggelvuur.

'n Laaste kelkie vlamgeel vonkelwyn
het ons geselskap afgerond. Alleen,
terwyl ons elf-uur dralend deur toe loop,

was in haar oë 'n skaduwee van pyn.
In hierdie huis ontbreek daar net een
item wat goud en silwer nie kan koop.

Karoo

Berusting in die leed van eeue oordek
die grys gelaat van hierdie doodstil land;
'n silwer liglyn beef oor elke rant
sover die blinkbruin einder rondom strek:

óm vaal verdriet van lappe gannastruik,
plek-plek die bakens asblou besembos
en troppies skaap wat luidloos oor die bros
karookalk skuifel-skuifel; die son se luik

laat strale lig uit transparante kringe.
Hier vind 'n mens opnuut die sekerheid:
daar is 'n hemel vol verborge dinge
verby die grense van ons ruimte en tyd,
'n land van ver, mistieke fluisteringe
wat ons bereik vanuit die ewigheid.

Kairo - 1961

Moskee's en nagklubs langs dieselfde straat;
hotels omsoom die oewer van die Nyl,
Amerikaans en oosters. Parias veil
hul ware luidkeels uit. Van vroeg tot laat

skal motortoeters. Met 'n bloedrooi fez
of kaalkoop gryns die lewensgroot portret
van Nasser neer uit elke nis, loket,
portaal en hal. Uit dié benoude nes

ontvlug jy dankbaar met 'n motorbus
om by die sfinks ver oor die duinesee
te peins: omdat die lewe hier so gou

vergaan - en sonder end die ewige rus
daarna - is al die huise lank gelee
van klei, die grafte van graniet gebou.

My plaas se grens

Die tolbos het Augustusmaand
my plaas se heinings toegewaai,
en in die grensdraad het die wind
die bondels waaigras vasgedraai.

Daarna het uit my akkerland
- soos in die groot Depressiejaar -
die stuifsand teen die doringdraad
in bloedrooi duine opgegaar.

En magteloos moes ek aanskou
hoedat die afgemete lyn
wat ek gespan het, in die graf
van wind en sand en stof verdwyn.

Nou het ek in die woesteny
geen baken of beduidenis,
geen sekerheid, want elke grens
is deur die waaisand uitgewis.

Naamloos

Die treursipresse was so stil, so stil
en roerloos teen die winterhemel aan;
en óm ons was die kerkhof doods en kil
terwyl ons twee allenig nadergaan.

Die koue sonlig het met silwer glans
oor die ou klein, wit kissie heen geskyn,
voordat dit luidloos, sonder naam of krans,
die stil-swart, donker diepte in verdwyn.

Op haar versoek het ek gebid dat sy
- klein fluistering in die groot, stil winterdag -
van God vergiffenis en die krag sal kry
om op die ver herrysenis te wag.

Getsémané

Die dag was vlamwit toe ons naderstap.
Olywe, knoestig, grys van ouderdom.
Nou moet dit naby wees.

‘n Ou-ou kerkgebou,
die druifblou ruite
laat ‘n skynsel
fluistersag
soos maanlig deur.
So het die Paasmaan daardie nag geskyn.
‘n Oop plek in die vloer
en spierwit kalkgrond soos dit was
twee duisend jaar gelede.

Dis hier.

Op hierdie plek het Hy gekniel,
gebid,
sy sweet soos druppels bloed.
Ter wille van sy vriende
het die leed van alle eeue hier
soos waterstrome saamgevloei,
en in sy hart
daar het dit uitgemond
in een groot see van angs,
een see van helse pyn,
een see van droefheid tot die dood.

‘n Klipgooi daarvandaan:
sy vriende aan die slaap.

Pleroma

"Want in Hom woon al die volheid
van die Godheid liggaamlik"
- Kolossense 2 : 9

Noudat dit aand is, is dit stil.
Die ongetrooste suidewind
het êrens in ‘n dal gaan lê
en ingesluimer soos ‘n kind.

Toe Hy van God verlate was
in Golgota se duisternis,
het Hy dié angs ‘n troos laat word:
dat God alomteenwoordig is.

Nou is die vrede diep en vol,
die leed van jare weggesink
soos waterkuile in valleie
wanneer die aand daar rooi oor blink.

Ons besoekers...

ip-location

Totale Besoeke